![]() |
| John Baxter |
|
1. Die Aller Oudste Boek 8. Is ek dan sy oppasser, Here?
|
11. Wees stil 15. Vir Emile Page (17) - Oorlede 19 September 2009 18. Wie sal jou laksman wees...
|
|
Die Aller Oudste Boek Ek het lank gesoek na die waarheid Na die doel van ons bestaan En my hart was vol van twyfel Oor die weg wat ek moes gaan Soos ‘n raaisel sonder antwoord Was vir my die lewens nood Waar ‘n mens moes swoeg en swerwe En ‘n kind moes huil om brood Met die slimste filosowe Het ek lank geredeneer Maar na elke redenasie Het die twyfel teruggekeer Ek het al die ou geskrifte En argiewe deurgesoek Tot ek onverwags gestaan het Voor die alleroudste boek Soos ‘n towerslag het twyfel Uit my lewe verdwyn En die lig van God’s genade Het in my hart geskyn Want die Boek van alle Boeke Het sy boodskap weer gebring Nou kan ek in plaas van twyfel Van die Groot Verlosser sing. (terug) Ewig Tuis Hoe verlang ek vanaand na my hemelse huis As ek luister in stilte na die winde wat suis Ruis oor die velde in vlae Die wêreld ‘n boodskap kom dra Van die Land waar ons ewig sal lewe Die land waar ons nimmer sal kla Hier van bemindes moet ons soms skei Hoe diep is die smart Wat ons harte moet ly Verslae van gees en gebroke die hart Wyl ons by ‘n ope graf staan En kyk hoe hul een vir een gaan Oorheers deur die smarte Van droefheid en pyn Geen hoop op die dag Dat die son weer sal skyn Swig as die vyand met laste kom pla Hoe swaar tog die juk wat ons soms dra Ver bo die sonlig Selfs bokant die maan Na die Land van belofte Daar wil ek heen gaan Ja, dis waar die son vir ewig sal skyn In die glorie van God’s heil fontein (terug) Soos die jare vlieg Skaars twintig jaar gelede nog Kon ek met jou as baba spog Wyl jy lustig rondwoel, skop en gaap Dan rustig in my arm slaap Die onskuld self van lief en leed En smart het jy nog niks geweet Waggel treetjies heen en weer Struikel en val, probeer maar weer Huppel met die skoppelmaai As die wind so deur jou haartjies waai Ogies blink soos môredou Weerspieël ’n diepte van geloof en trou My seun, maar nou is jy ’n man Wat jy ook al wil dit sal jy kan Want soos dou wat voor ’n sonstraal kwyn So vlugtig het die jare ook verdwyn Jy durf nie talm, durf nie bly Want vinnig gaan die tyd verby Hou jou kop hoog my seun Weet op Wie jy steun En as jy eendag bo-uitkom Gee dan al die eer aan Hom Onthou dan ook net dit Vir jou word steeds intens gebid (terug) Soeke na stukke Hart, siel, wese, entlik nog net kind Aan stukke deels gevind In my donker strate Jou lig wat wink Sterk brand jou gloed Skyn ondoofbaar in my bloed vind ek ’n spoor jy het my nie verloor Ek weet nou my soeke na stukke in dele was altyd by jou veilig in liefde toegevou (terug) Die nag het donker kom lê Die nag het donker kom lê Sy skuilplek van rus Voor ons voete kom lê Ons sag teen die wang gekus Die nag het donker kom lê Sy belofte van soete slaap Oor heel ons wese gelê Vrede in ons hart gelaat Die nag het donker kom lê Sy kleed van vrede ons toegevou Oor ons twee gesprei Liefde alleen ons behoud (terug) Vanaad dwaal ek alleen Masker van menswees ‘n fasade Menswees se valse bravade Trane wat in vloede wil oopbreek Weg te was die wanhoop en seer Wegkruip van ander se lewensgange Wegsteek van skande Wonder soms heel vroom Is menswees ’n ydele droom? Vanaand dwaal ek alleen Deur gange van mense se wees Vergeet die trane, fasade, bravaad Teen dit moet ons sorgend waak (terug) Soek my Soek my in die reuk van lente reën Soek my in branders wat teen rotse dreun Soek my in die klank van die huil kitaar Soek my in die lag van kindjie klein Soek my in die Liefde van God se Skyn Soek my... my hart basuin dit bo die berge uit Soek my Jy sal my kry Ek is nie weg nie (terug) Is ek dan sy oppasser, Here? Ek kom staan ’n oomblik stil, my Heer Vader, ek het steeds geen verweer Moet terstond met U praat Oor die wêreldse kwaad Heel aan die begin Het U dit goed besin Die mens uit stof te maak en met klei Het U toe reeds gevorm aan my Here, toe daardie vreeslike dag Van afguns en doodslag Sy broer se bloed in die grond U hart van Liefde verwond Waar is jou broer? Het U gevra Die las reeds so swaar om te dra Moet ek dan sy oppasser wees? Ek, Here, net bloed en vlees? Waarom dan Heer? Ek moet dit nou weet Nog die wêreldse kwaad As ek dan as sy oppasser waak? Genesis 4:9 Toe vra die Here vir Kain: "Waar is jou broer Abel?" en Kain antwoord: "Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?" (terug) Talita Koem! Sy was nog net blote kind Gespeel en rond rinkink Vol van lewenslus en vreugde Die toekoms lê oop en blink Die lewe nog ’n speel toneel Onskuldig wou sy daarin deel Skielik word sy neergefel ’n vreemde koors in haar gestel Het dag na dag haar uitgeput Van lewenslus en vreugde nut Angstig spartel sy in nood Teen die siekte tot die dood Radeloos het hul gewaak Totdat die dood haar koud en naak Gegryp het in sy ysterklou Jou dogter het gesterwe, mevrou Waarom nog die Meester pla? Waarom nog jou lot bekla? Maar toe het Jesus stil gaan staan En geluister wat hul sê Moet jou nie onstel nie, kom ons gaan Want slegs ’n slaap het oor haar kom lê Hy neem haar hand en sê “Talita Koem!” En sy het opgestaan ----Markus 5:41: Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: "Talita, koem!" Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op! (terug) Gesprekkie met my kind Ons praat, ons redeneer Ons pen die woorde neer Oor die liefde en musiek, elke noot Besing mekaar se nood Hoekom, Pa, hoekom is dit so seer Sê my voor ek volgende keer Aan iemand met groot berou Weer my hart toevertrou Ek weet jy weet dat ek weet Wat jy sê elke keer van die seer Jou vriendskap se voorkeur pla dalk soms Tog laat die liefde se geur jou altoos blom Ek het jou siel gesien my kind Jy het my self gewys jy vind Jou lewensweg met wysheid en insig Jou hart en oë ewig op Hom gerig Jy sê Paps, pen hierdie woorde neer Ons weet dit help om die seer Opgetel langs die pad te deel Ook met ons Heer van weleer (terug) Wees stil Wees stil my gejaagde dwalende gedagtes Wees stil My ontstuimige hart Wees stil My wilde verbeeldingsvlugte Wees stil My trotse dappere siel Daar kom ’n tyd wanneer selfs jy Moet wag op die stem van Gods’ gees Wees stil, O alles van my wees stil En soek die stil plek waar vrede begin Terwyl ook ek by die brandende bos Luister en wag op Sy stem “Wees stil en weet Ek is God” (terug) Lief vir jou, Dolla Lief is ek vir jou wat altyd verstaan As ek rond tas of struikelend gaan Lief is dit van jou wat maak of jy nie sien As ek koffie mors wyl ek dit bedien Lief is dit van jou wat rustig wag Wyl ek vertel van my dol en besig dag Wat my nooit sal verwyt of humeur verloor Al vertel ek dieselfde storie oor en oor Lief is ek vir jou wat deur die newels dring En al die gisters weer na vore bring Lief is ek vir jou wat my laat voel Jou liefde en agting word opreg bedoel Lief is ek vir jou wat verstaan as my kragte my vra Hoekom is my kruis so swaar om te dra Wat die las help verlig met jou liefde vir my Op die skof wat my uiteindelik huistoe lei. 1 Korinthiërs 13:4 – Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. (terug) Verlang vanaand na jou Soos flinder sag ‘n soentjie op jou wang Jy my liefste gogga, het my gevang Liefdevol het jy my toegespin Net vrou soos jy kan so bemin Soos windjie sag en briesie vars Roer jy diep emosies in my hart My liefste ding, my gogga, jy Weet net hoe om my te kry Soos reëntjie sag en druppeltjies dou Bly ek liefdevol aan jou vas klou My liefste ding, my dolla, jy Sê tog jy sal altyd by my bly? Soos sonnetjie warm en liefde trou Voor Hom belowe, kan ek onthou My liefste ding, my spinnekop, jy Sê tog ons gaan saam in oudag bly? (terug) Nie ons eie belang Voor ons God staan ons naak Uit stof is ons gemaak Soos koring stoppels op die land Wuif die wind ons van kant tot kant In genade onbeskryflik groot Het Hy sy liefde nooit weerhou Ons gered van ‘n ewige dood Sy Seun gebreek, Lewende Brood Ons kniel in liefde voor U neer Voor ons Driemaal Heilige Heer Dankie vir hierdie nuwe dag Maak vandag ons harte sag (terug) Vir Emile Page (17) - Oorlede 19 September 2009 Die woorde binne my het vanaand stil geword Ek soek U vanaand, my dierbare God! Die kwaad wees binne my gaan my verteer! Ek moet praat, ek moet dit met U deel! Ek wil dit uitroep, ek wil dit skree, my Heer! U moet vanaand hierdie woede uit my skeur! Dit moet weergalm tot teen die berge Tot verby die grense van my wese Tot verby die grense van nie verstaan nie Tot verby die grense van die ewigheid wil ek rebelleer Tot in die vêrste hoeke van die heelal Die bose dier het weer sy tande ingeslaan En dit wat àlles was vir vriende, boeties, pa en ma Uit hul harte geskeur asof dit niks was Hy skryf ‘liewe mamma en Pappa Ek wou nie gehad het dit moes tot dit kom nie Ek is net te moeg, ek kan nie meer nie’ Sy vriende en kennisse sê hy was ‘n pragtige seun Iemand hoop hy eet vanaand double crunch burgers op Jesus se skoot Sy liggaam nou gebreek en leweloos slap My hart is stukkend vir jou kind, kinders, ma en pa My gebede kom lê ek voor U voete, Here! By die altaar van vergifnis staan ek naak En vir U Liefde tot in ewigheid Bid ek, smeek ek, bedel ek, daarvoor kruip ek My Here, wees by hulle wat U vanaand soek in hul leed Wees by hulle wat U vanaand so bitter nodig het My Here, dankie dat ek vanaand van hierdie woede ontslae kon raak Die woede in my is nou sagter, dankie Heer… (terug) Woudliefde Jou stem was sag en vol liefde toe jy my roep om vir ‘n wyle in jou te kom vertoef Jy het jou deure vir my oopgemaak en in volslae verwondering en met die onskuld van ‘n kind het ek jóú in jou wonderwêreld gevind Jy het my omhels, my toe-oog gelei en my op vlerke deur jou woudwees laat sweef Ek kon die dringendheid van jou versugting soos die klamheid van ‘n vrou in afwagting aan my lyf voel kleef Jy het jou diepste geheim aan my ontbloot Die soetreuk van jou maagdelike liefde het die oermens in my laat ontwaak My siel het vir jou ‘n traan op ‘n blaarkombers gestort Jy het daar my minnares geword Ek het sagte liefdeswoorde in jou lowergroen gefluister Jy het my omhels en vir ‘n oomblik styf vasgehou In jou onbegryplike alleenheid het jy vir my ‘n plek gemaak waar ek vir ‘n oomblik soos ‘n ewigheid kon vertoef My jonkheid het jou oerheid herleef Ek het jou boomkinders kneukelvoet sien staan en ‘n loerie het vir my kom dans met kuifkop pronkend en ‘n koggelroep Maar jóú stilte raas steeds oorverdowend in my kop Op die Umlalazirivier het ek jou oopgekloof Jou skoonheid het jy voor my honger oë ontbloot Ek wou ‘n takkie van jou afbreek maar was so bang jy kry seer En hóé sou jy vir my sê dit is seer? ‘n Loerie het my kom vra: ‘Is jy van die bos of van die see?’ Ek het nie geantwoord nie, want ek weet steeds nie Vir ander is jy net ‘n bos, vir my is jy ‘n bruid Ek voel jou tot in my diepste wese Jy salf my seer (terug) Waar ek wil wees Met ons weersiens na ‘n lange dag verklap jou oë glinsterend die blydskap van jou hart as jy vrolik vir my lag Ek hoor jou liefde vir my sing Die lirieke in my wilde kringe Kleurvol en majestueus Ek is tuis, waar ek wíl wees! (terug) Wie sal jou laksman wees... die bloed aan jou hande dien net die waarheid die klaagstemme van moeders sal jou regter wees die geween van hul kinders sal jou aanklaer wees die trane van vaders sal die seel op jou graf wees die bloed van die onskuldige roep jou tot verantwoording op die skaal van reg en onreg hoe sal jy antwoord want die dooies kan nie lieg nie.. (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. John Baxter hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |