Japie Moret
1. Winter is hier



Winter is hier
Winter is hier, maar dis g'n plesier
om soggens vroeg op te staan
Dis koud en dis nat; ek is siek en sat -
Die griep maak my gedaan.

Die warm hoendersop gee darem skop
wanneer ek saans aansit vir ete
'n Warm kaggelvuur is soos 'n kuur
Die koue vir 'n rukkie vergete.

Die son gaan vroeg onder, ek kry koud daarsonder
Gou voel ons die byt in die lug
Ek soek warm klere, my duvet met gansvere
Dis hoe ek die koue ontvlug.

Dit ryp in die Vrystaat - mens, gee my tog goeie raad
om hierdie klimaat te trotseer
Durban is warmer, maar dit maak ons net armer
om sover te ry vir warm weer.

Ag somer, kom gou, verdryf hierdie kou'
veral as die ysige windjie waai
Vier wintermaande! Ek verlang na warm someraande
Sodat ek kaalbas kan swem, terwyl die skaaptjoppies braai.

Ek wens dis al somer; ja, ek is 'n dromer
dis asof die son al brand op my lyf
Maar wag, eers kom die lente, die reën is die rente
En die winter se pyn is verdryf.

(terug)