G.B. Maritz
1. Hoogverraad.

2. Vuur.

3. Die Reënboog pad na jou



Hoogverraad.
Die vrede weg, die siel't verlaat
vanweë n koue hoogverraad.
'n les gewin maar bloed betaal
vir wysheid, mosterd ná die maal,
maar lyf en kop en hart geskaad

Wat voorheen leef, lê stil en koud
vanweë steenkool gekies bo goud.
'n kroon geplaas op duiwels hoof
het broederbond's kop oopgekloof
en eer en waarheid dra die fout.

'n Leemte lê waar mens eers was
voor hoogverraad het aangetas
integriteit van broederskap
en rooi het lewe uitgetap
tog verraaiers hou hul pas.

Met traan en rede is probeer
om terug na waardes toe te keer
Maar nog is het einde niet
want soos n ster hom sou verskiet
is 'troue weg en kom nooit weer

Tot eindelik die brûe kraak
Tot eindelik ek waansinnig raak.
Tot haat 'n einde daaraan maak.
Rede dan ontmoet met daad
en al wat bly is hoogverraad.

(terug)


Vuur.
Die wrewel-haat is 'n eenweg straat
en ek volg dit soos ek jou verlaat.
Dit is vuur en dis sweet en die hemele weet
Dis geen plek vir vergeef en vergeet.

Dis die moord van moed en die vloei van bloed;
Dis 'n pad waar die storm altyd woed.
Daar is woede en blindheid en geen goedgesindheid
en die pad kom tog nooit op 'n punt uit.

Daar's die donkerder plekke waar, aan hulle nekke,
dooie gedagtes hang teen mure soos vlekke.
Bloed vlek die oog, die visie raak droog
wanneer rede die wraak wil betoog.

Dis 'n pad van vals krag en jou kwaad is jou mag
maar die asse daarvan is tog sag:
As die vuur uitbrand kom daar terug jou verstand
net te laat om jou veilig te land.

Maar die wrewel-haat is 'n eenweg straat
En sy hele lengte met goud gepaad.
En die vuur van my hart, die verteer my verstand
en maak alles wat sin maak van kant.

(terug)


Die Reënboog pad na jou
Vir Vanessa

'n Maanlig glimlag wag my in
saans as ek gaan rus.
'n Engel stem wat vir my sing,
my in n droom in sus.
Jou soete reuk wys my die pad:
'n Reënboog pad na jou, my skat.

Daar is safier-oë wat my dophou
van myle ver van hier.
Daar’s hande wat my vashou
as 'n skadu teen die muur.
Ek het geen kaart en volg my hart
en dryf af op die reënboog pad.

Ek hoor n fluister in my droom
wat my dan lei na haar.
Ek hardloop blind en sonder skroom
en volg na wie weet waar.
Ek volg die skadu, raak en geur,
die reënboog pad stop voor jou deur.

Jy druk my vas sonder 'n woord
en ek voel jou in my bloed.
Ek weet dis net hier waar ek hoort,
hier in my droom, saam jou, vir goed.
Jou soen het my verlief getoor
op jou het ek my hart verloor.

Als aan jou betower my:
Jou reuk, jou raak, jou blik, jou smaak.
Utopiese prinses, sal jy
in my hart my kompleet kom maak?
Dan val ek van die reënboog pad
ek sien jou weer in dromeland.

(terug)