Franzette
1. Van Verlange

2. Van ken en nie ken

3. Beelde

4. Jy

5. Verlang

6. Vryheid

7. Verlore

8. Vrae

9. (Jou laaste goedjies is uit die kas)

10. Een en twintig

11. Asb. Nie

12. (Hoekom heg ek waarde)

13. Geraamte dans

14. (Ek los die dorpie)



Van Verlange
Jy’s die een wat altyd lag
Al was dit nie rêrig ‘n lekker dag
En wanneer ek moeg en moedeloos jou bel
Was jy altyd gereed om vir my ‘n grappie te vertel
En ernstig, ja, dit kon jy wees
Maar deur dit als, bly jy ‘n fees
Want dis wysheid wat daar praat
En so, so skielik gee jy raad
Van goeters en dinge wat my pla
En ander kere se jy net,
ja
Van die aarde is jy weg
So onverwags, so sleg
Ons het dit nie so verwag want,
Want die spuitnaald was eens jou beste pêl
Ja, jy was ook, soos baie ander, deur daardie hel
Noupoort het jy gehaat
Maar ons het bly glo, en jou daar gelaat
En skoon, skoon het jy vir kinders geleer
Hoe om ‘n tennisbal te hanteer
Maar die Sondag oggend met my foon se lui
Het ek geweet waarop jou pa se stemtoon dui
In ‘n motor ongeluk moes jy sterf
Jy’s vir altyd in my geheue gekerf
Op jou kop, altyd ‘n pet
Jou sonverkleurde vel
Jou woorde wat my red
Jou nommer op my sel…
ek sien jou soms in die straat
maar dis my verbeelding wat daar praat
ek hoor jou stem in die stad
maar ek weet jy stap nie meer darie pad
Markus, die dae verby was goed
Ek voel jou steeds in my bloed
ek onthou jou, nou
ek sal altyd aanhou onthou

(terug)


Van ken en nie ken

Ek het jou soos ‘n skulpie opgepas
Jou toegevou in ‘n tissue
En gebêre in my jas
Maar jy is nie dood nie

Soos ‘n slak het jy uitgekruip
En net die dop gelos
En toe ken ek jou nie meer?

Eens het ek elke ronding en kleur geken
Want jy’t my hart gewen

Sonder dat ek geweet het was jy daar
Maar jy was nie
Waar was jy?

As ek geweet het dat jy kon dink
Sou ek nooit toegelaat het
Dat die skulpie
In my sak begin stink

(terug)


Beelde

In hierdie malhuis van gesigte
En vroue wat se polvye in my oë trap
Is weerkaatsende ruite
Wat flikker-flikker oor my siel stap
In die roetlug van die nag
Ritsel die bruin-groen gras
En iemand fluister sag
Deur gebarste lippe vas
In die rooskleur van ‘n rotstuin
Juig vlermuise
En vat my bewussyn
Saam in die maanlose huise
Die judasstreek van jou aangesig
Laat glinster die blou son
En verwurg
My in my eie koekon
Waar die swart lelies huil
Oor jou en my
Voel ek dood in my skuil
As skaduwees oor my wei
Waar die vrot vrolik glimlag
En swart spore oor my hart loop
Sien ek jou voetspoor
Verdwyn in die stille nag.

(terug)


Jy

Kom gooi ou klere op die reukaltaar
Laat dit ‘n aangename geur versprei
Ek wil dit in my hart bewaar
Dat dit altyd by my bly

Die heuningdou op jou mond
Maak jou lewe gesond
Jou skiet gebed
Red mense uit Satan se web

Jy’s ongeskonde
Jy’s ongereb
Wees altyd aan God verbonde
“Dit is die lewe se resep”

en as jy eendag
weg moet gaan,
bly jou almelewe glimlag
die aarde se wentelbaan

(terug)


Verlang

Ek verlang na jou…
Ek wens jy was nou hier
Jy wat aan my gedagtes kou

Want as jy aan my vat
Bons my hart
En wip-wip
Tot waar jy sit

Jou hartedief
Ek het jou…
Al sal ek dit nog nie sê
Want, is dit wat jy wil hê?

(terug)


Vryheid

Die prent was pikturaal
Met ‘n bliksemsnel daardeur
Die kunstenaar was besonder begaafd
Met ‘n duisend woorde
Agter Sy naam

Hy was naak en skaam-
Maar, op-die-man-af
En toe, kraai die haan
En iewers, hoor ek ‘n hond blaf

Al’s is afgryslik
Ek hoor mense snik
En die bliksemsnel
Is nou die hel

Die mensdom was vry
Net nie Nuwe Hemel was oor
Verbeel ek my
Of is dit kore wat ek hoor?

(terug)


Verlore

Dit was alles so vinnig
Ek’t rêrig gedink jy gee om
Ek was verkeerd
Daarom
Bly ons stil

Miskien was hy te dronk
Om te sien ek’s te jonk
Ons was soos ‘n lied
Sonder ‘n refrein
Alles is tot niet
It was “all in vain”

Partytjies in die voorhuis
Partytjies in die straat
Partytjies tussen lakens
En nou, is dit te laat

Slaap my kindjie slaap sag
Onder dorings vannag
Straal ‘n sonskyn in jou lag
Bêre dit in koue krag…

(terug)


Vrae

“Die lewe is unfair”
Het jy gesê
En jou kop geleun
Dat die stoel se kopstuk jou steun
Ek weet nie wat om vir jou te sê
Ek weet nie wat om…

“Hoekom hoekom?”
Het jy gevra
Ek wens ek kon jou seer vir jou dra
Want dit lyk swaar
Om ‘n kind te wil hê
En nie een te kan baar

Miskien is dit nie die regte tyd
Probeer ek jou pyn stuit
Maar ek weet dit help nie
Want wat weet ek
Al wat ek doen is werk

Jy’t tee gaan maak
Ek’t opgekyk na die sterre
Vir die eerste keer hulle probeer raak
Dis seker hoe jy moet voel
die wind hier buite is koel

(terug)


(Jou laaste goedjies is uit die kas)

Jou laaste goedjies is uit die kas
Ek skuif die hangers en hang my nuwe jas.
Hier in die oop oop spasie van die kas se maag
Word die geheue aan jou baie vaag

Na jou uitloop
Het ek besef
Dat die mure kan spook
Jyt nogsteeds ‘n oorhef

Vandat jy weg is
Kan ek doen wat ek wil
Maar daar is geen rus
Want my kop word nie stil

Dit is eensaam sonder jou hier
Ek kan nie ophou dink
So ek drink nog ‘n J’nB
Is dit die duiwel wat vir my wink?

Ek sien jou saam haar
Nie in die strate
Maar in my kop is dit waar?

Jyt selfs die klokkie gevat
Die kookboeke
Vir wat?

Ek voel geen skaamte
Ek voel nie seer
Al is my lyf geraamte
My siel kan jy nie keer.

(terug)


Een en twintig

Hoe kon ek moontlik
Geweet het wat ek wou gehad het
Toe ek net 21 was?
Daar is miljoene mense
Wat my raad gee en se wat ek moet doen
Maar hulle doen dit net vir hulle self
Dat hulle nie skaam hoef te kry vir my
Elke invloed wat jy op my gehad het
Sal altyd wees
As ek jou stief behandel het
Het ek dit regtig nie bedoel nie
Maar jy weet hoe dit is en hoe ‘n
Swangerskap mens kan verander
Ek sien baie klere waarvan ek hou
Maar ek gaan vir ‘n ruk nie
Uitgaan nie
Al wat ek wil doen is om hier te sit
“is jy bang”het jy gevra
Ek’t gesê, ja.

(terug)


Asb. Nie

Moet my nooit probeer verander
Want ek wil nie.
Nes ek is, soos ‘n brander
Moet my asb. Nooit probeer verander.

Want ek hou van myself
Net soos ek is.
Die lewe het my so gewis
Moenie in my siel probeer delf.

Want jy sal soos ‘n spons
Vol deurmekaar
Daar uitloop.
Vol nie verstaan
Miskien gedaan.

Aan die begin
Lyk dit pret
Om deurmekaar te wees
En my te probeer red

Maar na ‘n tyd
Sal jy verstaan
Dat dit nie kan gebeur
Jy kan my nie keer.

Die lewe het sy spel gespeel
Daar is g’n verweer
Geen woorde
Geen akkoorde

So moet my nie probeer verander
Want ek wil nie
Nes ek is, soos ‘n brander
Moet my asb. nie probeer verander

(terug)


(Hoekom heg ek waarde)

Hoekom heg ek waarde
Aan die lewe
Alles hier op aarde

Hoekom maak dit saak
Of die lewe sin maak?

Hoekom so baklei
Vir ‘n plekkie om te bly

Hoekom twak praat
As om eerder sin te maak?

Hoekom rook?
Hoekom nie rook?

Hoekom vasklou
Aan iets wat nie gaan hou

Hoekom hier lê
As ek kan lief hê?

Vir wat dit werd is
Dis hoekom ek jou so mis.

(terug)


Geraamte dans

Almal het op ‘n manier
Iets nie lekker hier
Vat ‘n kans
Laat jou geraamtes dans.

My geraamte uit die kas
Dans die tango met my jas

Ek voel so vry
As hy so lekker kry

Draai en draai
Om en om
My hare waai
My voete voel dom.

Leer die bene
Hoe om te werk
Wat niemand weet
Nie eers die kerk

Want net ek
Ken my geraamte
En hoe hy dans

Want net ek
Vat ‘n kans
Om met my geraamtes te dans

(terug)


(Ek los die dorpie)

Ek los die dorpie
Agter my
Dis die stad
Wat my gedagtes ry
Wil die wind weer in my hare voel
Wil die liggies
In die aand sien gloei
Wil die lewe in die “fast lane’ proe
Waar die geld so vinnig vinnig vloei

Onverstaanbaar? Onverstaanbaar
Dis vir hulle
Onverstaanbaar.

Die mense in die dorpie
Wil niemand niks ooit gun nie
Vra nie baie geld ooit hier nie
Sukkel voort drink nog ‘n biertjie
Hulle hou van sport en rugby
Hulle weet niks van kultuur nie.

Ek los die dorpie
agter my
na die stad is waar ek net wil ry
daar is meer te doen
meer mense
al my vriende
ken hul grense

Onverstaanbaar
Onverstaanbaar.
Dis vir hulle
Onverstaanbaar,

Hoe’s dit moontlik
Dit is Godom
Nee Gemora
Byt jou lip.

Ek los die dorpie agter my
Die mans wat trou
En kinders kry
Want dis al te doen
In hierdie plek
Dit maak my sommer
Sommer gek.

(terug)