Estelle Campher
1. Die Engel

2. Drome

3. Hoeke van my gedagtes

4. Kaartspel

5. PAPAWERWALS

6. Stormsee



Die Engel
U wat my gedagtes ken…
As ek planne beraam; as ek opgeruimd is;
Of selfs as ek hartseer is.
Wanneer ek tonguit rondskarrel in die harwar
Van my dag tot dag bestaan;
Maak my dan kalm en stil – doodstil!
Sodat ek dit nie dalk mis as U Engel in die verbygaan
Sagkens met sy vlerk se punt vir ‘n oomblik
Aan my skouer raak nie…

(terug)


Drome
Wat is drome?
Is dit slegs onwerklikhede wat in ons onderbewussyn gestalte vind wanneer ons slaap?
Is dit onwerklihede wat ons opdroom terwyl ons wakker is, en hunker …
Hunker na iets wat niemand van weet nie?
Of dalk hunker na iets wat ons self nie eers van weet nie…
Iets wat ons dink – dit is hoe dit sou wees; dit is hoe dit kon wees
Dit is hoe dit moes wees…
Wat sou ons sonder drome wees?

‘n Leë dop wat van dag tot dag voortbeur om te lewe volgens wat van ons verwag word?
Net ‘n bestaan…
Drome is die gom van die lewe
Dit is die gom wat ons aanmekaar hou
Wat die voortbeur makliker maak
Dit is die hoop op wat nog kan gebeur
As daar nie meer hoop is nie, is daar niks meer nie
Hoop laat ons na beter dinge streef
Hoop laat ons glo!

Moet dus nie té suinig wees met daardie gompot nie …

(terug)


Hoeke van my gedagtes
Dit is hierdie skildery se naam –
Die seer pyn van die vlymskerp hoeke dra ek elke dag met my saam.

In die doolhof van deurmekaargeweefde vorms
Kan ek so maklik die pad kwytraak –
En dit alles omdat ek nie wil leer om oor die dinge wat my hinder of waarvan
Ek droom, te praat nie …

As al die vorms en lyne in my kop maar net reguit en meer eenvoudig was,
Sou dit soveel makliker wees om my by ander mense se reguit koppe aan te pas.

Nou is ek – miskien gelukkig – met hierdie persepsie geseën – of gestraf…
Maar wat ek met hierdie hoeke maak, hang slegs van my eie,
Deurmekaar self af.

(terug)


Kaartspel
Elkeen van ons word in hierdie lewe ‘n hand gedeel
Maar dit hang af wat jy daarmee doen, hoe jy daarmee speel
Party kaarte moet jy hou, ander weer uitgee
Soms is dit ‘n fout, soms is jy tevrede daarmee
Maar wees versigtig wat jy daarmee doen
Jy moet die res van jou lewe daarmee versoen
Dit bepaal die res van jou lewe se loop
Partykeer is jy gelukkig – dat jy nog ‘n kaart kan koop …
Wees dus maar tevrede met wat jy kry
Dit kon erger gewees het – dalk met baie hartseer daarby
Dis net belangrik dat jy weet watter om te hou
Dis die hand wat die lewe jou deel
Moet dit tog nie verbrou.

(terug)


PAPAWERWALS
Jy dans op die windjie se deuntjie ‘n drietyd
Jou kreukelpapierrokkie staan styf in die wind
Die veld is swanger, die lente moet baar
En jy papawerblommetjie – net maar ‘n vrolike somerskind.

(terug)


Stormsee
Die wit skuimwal beur verpletterend teen die rotswand vas;
‘n groot, klam spookmuur suis hoog die lug in
omsingel my –
genadekombers?

Ek verbeel my nog ek sien jou seilskipsilhoeët
In die versmorende mis,
Maar jy het jou anker gelig en my
Gebiedswater verlaat...

(terug)