![]() |
| Estelle Campher |
|
1. Die Engel
|
|
Die Engel U wat my gedagtes ken… As ek planne beraam; as ek opgeruimd is; Of selfs as ek hartseer is. Wanneer ek tonguit rondskarrel in die harwar Van my dag tot dag bestaan; Maak my dan kalm en stil – doodstil! Sodat ek dit nie dalk mis as U Engel in die verbygaan Sagkens met sy vlerk se punt vir ‘n oomblik Aan my skouer raak nie… (terug) Drome Wat is drome? Is dit slegs onwerklikhede wat in ons onderbewussyn gestalte vind wanneer ons slaap? Is dit onwerklihede wat ons opdroom terwyl ons wakker is, en hunker … Hunker na iets wat niemand van weet nie? Of dalk hunker na iets wat ons self nie eers van weet nie… Iets wat ons dink – dit is hoe dit sou wees; dit is hoe dit kon wees Dit is hoe dit moes wees… Wat sou ons sonder drome wees? ‘n Leë dop wat van dag tot dag voortbeur om te lewe volgens wat van ons verwag word? Net ‘n bestaan… Drome is die gom van die lewe Dit is die gom wat ons aanmekaar hou Wat die voortbeur makliker maak Dit is die hoop op wat nog kan gebeur As daar nie meer hoop is nie, is daar niks meer nie Hoop laat ons na beter dinge streef Hoop laat ons glo! Moet dus nie té suinig wees met daardie gompot nie … (terug) Hoeke van my gedagtes Dit is hierdie skildery se naam – Die seer pyn van die vlymskerp hoeke dra ek elke dag met my saam. In die doolhof van deurmekaargeweefde vorms Kan ek so maklik die pad kwytraak – En dit alles omdat ek nie wil leer om oor die dinge wat my hinder of waarvan Ek droom, te praat nie … As al die vorms en lyne in my kop maar net reguit en meer eenvoudig was, Sou dit soveel makliker wees om my by ander mense se reguit koppe aan te pas. Nou is ek – miskien gelukkig – met hierdie persepsie geseën – of gestraf… Maar wat ek met hierdie hoeke maak, hang slegs van my eie, Deurmekaar self af. (terug) Kaartspel Elkeen van ons word in hierdie lewe ‘n hand gedeel Maar dit hang af wat jy daarmee doen, hoe jy daarmee speel Party kaarte moet jy hou, ander weer uitgee Soms is dit ‘n fout, soms is jy tevrede daarmee Maar wees versigtig wat jy daarmee doen Jy moet die res van jou lewe daarmee versoen Dit bepaal die res van jou lewe se loop Partykeer is jy gelukkig – dat jy nog ‘n kaart kan koop … Wees dus maar tevrede met wat jy kry Dit kon erger gewees het – dalk met baie hartseer daarby Dis net belangrik dat jy weet watter om te hou Dis die hand wat die lewe jou deel Moet dit tog nie verbrou. (terug) PAPAWERWALS Jy dans op die windjie se deuntjie ‘n drietyd Jou kreukelpapierrokkie staan styf in die wind Die veld is swanger, die lente moet baar En jy papawerblommetjie – net maar ‘n vrolike somerskind. (terug) Stormsee Die wit skuimwal beur verpletterend teen die rotswand vas; ‘n groot, klam spookmuur suis hoog die lug in omsingel my – genadekombers? Ek verbeel my nog ek sien jou seilskipsilhoeët In die versmorende mis, Maar jy het jou anker gelig en my Gebiedswater verlaat... (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Estelle Campher hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |