Chris Gifblaar
1. in die lusernland

2. haar jabesgebed

3. veras

4. slafies



in die lusernland
in die lusernland lê letsels
van 'n sware skaarploeg
gesleep deur bergland se plotseling
en oupa se sweet en swoeg...
die pers bloei deur die wonde
van hansie-en-gertjie se klippies,
ouma se soekende skoen sleepsels
en pap papierhoedskippies –
nou tot 'n bruin vergeel
deur die son se steek,
die maan se gloed en
die reën se week...
die reën se papnat week...
in die lusernland lê fyn stukkies
van my hart
geplant tussen rooisand en ysterklip;
en ek verstaan net 'n klein part
van sy jare se omploegsweet,
die vreug van persblommetjiesbloei
se streel teen twee growwe hande
en 'n hartsversnellende vloei
van 'n onbeskryflike oorstelping –
die kroos pluk die blommetjies skelmpies
vir ouma se kombuisvensterbank
in ruil vir haar koekies...
in ruil vir haar laaste koekies...
in die lusernland staan ons...
in die lusernland bly ons...

(terug)


haar jabesgebed
onseker en moedeloos het haar
soos 'n draadspinnekoppie kom besoek.
sy is getart en gejou en uitgebuit
todat sy as arme bedelaar
haar helpmytrane stort
op die straathoeke van 'n dorre beloofde land…
elke aand as sy gaan slaap
en elke gewaagde dankie sou opdra,
bid sy tot haar liewe Jesus
om seën van Hom te vra.
alleen en seer het haar
soos 'n siekte kom besmet.
sy is gekou en geëts en gekerf
todat haar hartsnerwe
die skurwe dagsoomrante
van haar drome bederf…
elke aand as sy gaan slaap
en elke gewaagde dankie sou opdra,
bid sy tot haar liewe Jesus
om seën van Hom te vra.
geluk en vrede het haar kom vry
en soos ‘n kinderliefling aan die hand geneem.
met liefde en hoop en kindsheid alleen
het hy haar met sy minnesang gevlei
todat haar hart verlang het na meer
en sy vergeet het van al haar bedroe’e seer...
elke aand vly hy haar tot genoeë neer
en terg hy haar met sy minnetas se bekoor,
en bid sy dan tot haar liewe Heer
om Hom te dank dat Hy haar aangehoor...

(terug)


veras
blink: vaal van uitsweet in die droë straal,
dei ongevoede boepens bas,
en groot geloer gesien
oë – diep geset in bruin as,

die skraal, skyn dit wees,
arms wil weerloos wel
brommers koester na sy
maag – 'n leë, sure hel,

as semelbier
en bitterpap
die fees vier:
nog 'n kleintjie moet drink die bitterkelksap
van lewe in die dorre droë wêreld,
waar moeders hul kindjies groot
teen hul barre boesems brag
om besmettings wat betoog –
na hul yl, skaars korreltjies – te bestraf.

(terug)


slafies
almal staan agter mekaar
op die glad nat pad –
elkeen met sy eie idee van
'n korporatiewe korpulente eenheid:
goud.

en kyk,
swart slafies vee God se trane
uit almal se pad...

(terug)