Bokkom
1. ANASTASIS

2. EK IS MENS



ANASTASIS
ek hoor die haan
hy breek my lyf saam met die dag
en spyker my vas aan die sonsopkoms
met ‘n kus op my wang
en in my hart
deurboor hy my met sy koggelroep
kroon my tot veroordeelde
slaan my neer tot slaaf
en lei my nie na groen weivelde
maar
die laaste geskal
spreek my vry
maak my die eerste
en laat my uitstyg bo my bande van menswees
skuldig wees
van arm - wees
ek offer die Lam
weer en weer
en sien die rook wat opkruin na die Hoogtes
ek bad my in Sy bloed en was my in Sy pyn
en kyk, ek staan, ‘n nuwe ek
vandag

(terug)


EK IS MENS

ek huil al jare lank
alleen
oor wat ek is
voor U
my beste strewe na die goeie
om ‘n Jesus te wees tussen mense
misluk sonder stotter
ek spyker my hoog
op kruise wat ek self bou
die wêreld se laagste hoogstes
my eie Golgota
en wyl ek hang en bloei
en sterf
spot ek myself
gésel my eie denke
en skree die nag in
so hard
dat ek myself skaars kan vergewe
want kyk, weet hy regtig wat hy doen?

(terug)