Boerseun
1. Die Duister Son



Die Duister Son
Die velde lag en speel gelate
in die goue gloed van die somerson
geel grasse buig en wuif hul sade
in n godsdiens geel ritueel
wiegend wuiwend dans hul heen en weer
die bevrugtings ballade van die geel grassade
in die rielle ritme van die westerwinde
getooi en geklee in feesgewade
bestuif bevrug en bevry hul sade
en daarbowe eensaam alleen
n arend... swyend swewend


Die somerson wankel
die skelm skemer steel haar sprankel
wyl haar laaste lewenslig langsaam huiwer
blink haar skone stralekrans so suiwer
vergeefs veg sy die dreigende duister
sy sterf bebloed verloor haar goue gloed
wyl die velde sagweg fluister...
met daarbowe alleen net...die lee lug

Die nagduister is n swart sluiper
in die skadus skuil die skimmeskemer
geklee in n grys skemerkleed
dwaal die skemerskimme grou en grys
n spokeskemer voor die naderende newelnag
wyl die velde stilweg luister
wagtend vir die donker duister
DIE SKELLE GESKREE VAN DIE NAGKORHAAN
verbreek die doodse spokestilte
en verkondig die koms van die donkermaan
met daarbowe alleen in die skemerlig...
n watervoel haastig in sy vlug

Aan die oosterkim verskyn
die swart perd met sy ruiter
in sy regterhand...die donker duister
die ruiter met die donker mantel doek
doof die dowwe skadu skemer
tot dik duister donker
sus die velde in n diepe slapesluimer
in die lig van die bleek sterreflonker
met alleen daarbowe... n naguil in sy vlug
deur die lewelose lig

Die duister donker kwyn
as die swart perd met sy ruiter
oor die hemelhorison verdwyn
vlugtend voor die blink morester
uit die skadus kruip die skemerskim
en sluip skelm skelm na die westerkim
met daarbowe alleen... n hadida
wat die nag uitlag

Aan die oosterkim verskyn
die wit perd met sy ruiter
in sy regterhand n hemelson wat helder skyn
hy verdryf die donkernag se duister
die velde ontwaak uit hul diepe slapesluimer
hul aanskou die son se stralekrans so suiwer

en in die verte in aantog... die swart perderuiter.

(terug)