B.Elizabeth
1. 'n Oomblik in vandag

2. Nie Vandag nie

3. Nimmer nie oud

4. Rede om te verskil

5. Hoor jy my?

6. Lagplooitjies vir my



'n Oomblik in vandag
Hier is ek,
met my hart in my bek
wat stadig stadig lek
want ek verlang my gek.

Ek is blou,
van dan tot nou
ag tyd hardloop gou
want ek verlang na jou.

(terug)


Nie Vandag nie

Dis net die wind;
maar dit voel asof hy my wang streel.

Dis net sonskyn;
maar dit voel hy sy arms om my vou.

Dis net die melkweg;
maar dit voel asof hy 'n droom met my deel.

Dis net 'n reendruppel;
maar dit voel asof ek weer hoop kan onthou.

Dit was gister;
nie vandag nie.

(terug)


Nimmer nie oud

'n Toring wat die hemel prik
en warm gotiese persoonlikheid,
fondasie gebou met klip
en 'n spookstorie in sy stilligheid.

'n Oog wat vir jou loer
houtvloere wat geduldig kreun,
toegedraai in muurpapier is wat jou wegvoer,
na 'n gister wat weelde ondersteun.

Twee broers amper vergete
die bewys van 'n klein begin
en eindig met simfonie optrede,
die land goed ontgin.

Van klip tot hout
van hout tot steen,
is hy alles behalwe oud
die welbekende Erasmuskasteel.

(terug)


Rede om te verskil

Tyd vir my is kosbaar,
Tyd vir jou is in oorvloed.

Geluk vir my is more,
Geluk vir jou is nou.

My hart hou ek eenkant,
Jou hart deel jy graag.

More is vir my miskien,
More vir jou 'n nuwe begin.

As, vir my is verbrande hout,
As, vir jou is 'n stukkie goud.

Eendag vir my is te veel,
Eendag vir jou is wanneer.

Liefde vir ons 'n avontuur

(terug)


Hoor jy my?

vir Lepi

Ek wens ek was 'n boom,
wat geduld in elke plootjie skroom
sy karakter wys hy trots
met wortels wat gister soek in sagte grond of harde rots.

'n Moederhuis in elke mik
suiwer wysheid wat hy maklik verklik
ritselende blare wat bekkig raak
as seisoen sy verskyning maak.

Statig staan jy altyd en wag
ek moet bieg ek het 'n klag
my woorde is wat ek met jou deel
my hande wat oor jou boombas streel

Doen ek dit, voel ek klein
ag hoor jy my ?
Dis jou geheim.

(terug)


Lagplooitjies vir my

vir my broer

Dit gebeur soms skielik
tog sou ek wou voorspel,
sodat ek kan verklik
hoe my hartklop versnel.

My maagspiere span saam
en my oë sien helder,
hoekom sou ek nou skaam
en oomblik soos die kelder ?

Oomblik teenstaande van hopeloos
waar niks jou demp
en die lewe jou troos,
Ag leen my jou hemp

Mag ek dit nooit keer
die traan wat val vandag
dis jou toedoen alweer
nog lagplooitjie, nog skaterlag.

(terug)