Anja
1. verlede tyd

2. kleinkind

3. adagio

4. eggo’s

5. genadegawe

6. groei

7. self

8. verlange



verlede tyd
jou stem kom loop krap ou vergete
herinneringe oop
vat my terug na daardie dae...
elke gister netjies
toegevou
in sy eie verslete pakkie van
naïewe
wanhoop

(o, om hul net weer éénkeer vas te hou!)

kan ek uiteindelik maar net vra,
hoe gaan dit nog met jou?

(terug)


kleinkind
daar groei vurke en teelepels in my tuin
ouma se kind
het dit daar gaan plant

die rooi malvablommetjie, lankal verlep
(en nou al eerder ‘n vaalbruin)
het sy laaste rusplek in my Bybel gevind

en die modderkoekies bars
en keer terug na sand

(terug)


adagio
ek raak bewus van jou asem
teen my hart se
koue muur
van jou vinger wat sag en
sonder doel
voortjies
in die wasem
trek
en in die geborgenheid van
hierdie goue uur,
in die veiligheid wat
die bekendheid daarvan wek,
voel ek skielik tuis
sluit ek my oë en
kom tot
rus

(terug)


eggo’s
wolf, wolf, hoe laat is dit?
Jesus min my, salig lot!

naels skoon?
skoene blink?
haartjies netjies vasgebind
bruin tassie met sy kosblik in
een plus een is?
Juffrou sug...
“kom, julle, laat ons oor begin...”

(waar is jy,
stywe-rug kind?
sal ek jou in my
weerkaatsing vind?)

dit weet ek uit die Woord van God!
wolf, wolf...!


(terug)


genadegawe
hier waar ek ‘n oomblik rus, stil teen die koel
van jou witgekalkte muur
en die naklank van die akapella-koor
soos kosbare olie my siel oorspoel
breek die verlede, in hierdie gewyde uur,
in eerbied en diepe verwondering,
vorige geslagte se geheime een vir een vir my oop
vertel my lank-vergete stories van die dood
van doop
van troues
en van hoop
en van elke slot
se eersbegin

en in die na-middag son se loom,
in die kwynende dag se stil, diep leed
vind ‘n vrede so salig, so wyd, so groot, so breed,
hom tot in die kern van my lewensbaan

en hou jy, klein Kerk oor eeue heen steeds oor mens die wag,
pleit jy die seën op hom neer
en vier hy die lewe, die liefde, sy lot
met nagmaalwyn en
brood

(terug)


groei
vanoggend in my tuin,
my heiligdom,
groet die rein-wit wilde iris my
die lila van die petrea
spatsels pienk bauhinia

en my gemoed skiet skielik vol…

en ek bid, ootmoedig in dié pyn-sekond,
o Heer
laat u seën soos milde reën
ook die pit in mý hart
laat bot

(terug)


self
blom van die veld
onkruidroos
vaalgroen
onbeduidend
half moedeloos
die stingel
dun blare bloos
onder die kneus van 'n duim
verwelk soos 'n bleek
sonsondergang
huil
een klewerige
soet
traan

(terug)


verlange
jy is 'n foto
in 'n raam,
in swart en wit,
teen my muur

jou sagte oë lewe saam my elke uur -
glimlag oor my vreugde
treur saam in my nood,
verstaan

maar elke nou en dan
staar jy, kalm, maar bloot
verby

(terug)