![]() |
| Anja |
|
1. verlede tyd
|
|
verlede tyd jou stem kom loop krap ou vergete herinneringe oop vat my terug na daardie dae... elke gister netjies toegevou in sy eie verslete pakkie van naïewe wanhoop (o, om hul net weer éénkeer vas te hou!) kan ek uiteindelik maar net vra, hoe gaan dit nog met jou? (terug) kleinkind daar groei vurke en teelepels in my tuin ouma se kind het dit daar gaan plant die rooi malvablommetjie, lankal verlep (en nou al eerder ‘n vaalbruin) het sy laaste rusplek in my Bybel gevind en die modderkoekies bars en keer terug na sand (terug) adagio ek raak bewus van jou asem teen my hart se koue muur van jou vinger wat sag en sonder doel voortjies in die wasem trek en in die geborgenheid van hierdie goue uur, in die veiligheid wat die bekendheid daarvan wek, voel ek skielik tuis sluit ek my oë en kom tot rus (terug) eggo’s wolf, wolf, hoe laat is dit? Jesus min my, salig lot! naels skoon? skoene blink? haartjies netjies vasgebind bruin tassie met sy kosblik in een plus een is? Juffrou sug... “kom, julle, laat ons oor begin...” (waar is jy, stywe-rug kind? sal ek jou in my weerkaatsing vind?) dit weet ek uit die Woord van God! wolf, wolf...! (terug) genadegawe hier waar ek ‘n oomblik rus, stil teen die koel van jou witgekalkte muur en die naklank van die akapella-koor soos kosbare olie my siel oorspoel breek die verlede, in hierdie gewyde uur, in eerbied en diepe verwondering, vorige geslagte se geheime een vir een vir my oop vertel my lank-vergete stories van die dood van doop van troues en van hoop en van elke slot se eersbegin en in die na-middag son se loom, in die kwynende dag se stil, diep leed vind ‘n vrede so salig, so wyd, so groot, so breed, hom tot in die kern van my lewensbaan en hou jy, klein Kerk oor eeue heen steeds oor mens die wag, pleit jy die seën op hom neer en vier hy die lewe, die liefde, sy lot met nagmaalwyn en brood (terug) groei vanoggend in my tuin, my heiligdom, groet die rein-wit wilde iris my die lila van die petrea spatsels pienk bauhinia en my gemoed skiet skielik vol… en ek bid, ootmoedig in dié pyn-sekond, o Heer laat u seën soos milde reën ook die pit in mý hart laat bot (terug) self blom van die veld onkruidroos vaalgroen onbeduidend half moedeloos die stingel dun blare bloos onder die kneus van 'n duim verwelk soos 'n bleek sonsondergang huil een klewerige soet traan (terug) verlange jy is 'n foto in 'n raam, in swart en wit, teen my muur jou sagte oë lewe saam my elke uur - glimlag oor my vreugde treur saam in my nood, verstaan maar elke nou en dan staar jy, kalm, maar bloot verby (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Anja hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |