André van der Merwe
1. ROOIBLOSWANGE

2. OU VOUE EN MIDLIFE

3. MENSE MET GLASKOFFIETAFELS MOET NIE KLIPPE GOOI NIE

4. TE LIG GEVIND

5. DIE PUNTE IN MY LEWENSINNE IS OPTELKLIPPE

6. DIE DOOD STAAN HOOG IN DIE BEEN VIR MY VANDAG

7. EENVOUDIGE LIEFDESGEDIG

8. VLIETEND

9. BESOEK AAN DIE HUIS VAN MY JEUG

10. BY ’N SLYPSKOOL, IN GESPREK MET GESLEPE OORDEELFELLERS OOR DIG



ROOIBLOSWANGE
my somer begin vir seker
met die oopbreek van die eerste appelkoos
twee duime in ’n sagte fluweelholte
ligte uitwaartse insinkingsdruk
dan die sappige meegee
twee helftes wydoop gesper
soetvogdruppend oor taai vingers
met tongpunt geslurp
en dan
die toe oë versugtingshap
oorweldigend prikkelend
en aaah so glip dit af
my somer begin
met my eerste appelkoos

(terug)


OU VOUE EN MIDLIFE

dan / wanneer julle so sonder selfbewus / mekaar se bekendste voue ontgin / vir elkaar en eie ekstase / en in die afspiraal / moet hoor van die gebreekte hek / die onbetaalde kaart / die lekkraan

dan / skud jy die koekkrummels uit jou some / jaag ten minste 20 km oor die nasionale spoedgrense / met vleiskuif wapperend / dawerende sewentigs rock / rigtingloos tot halftenk

dan / keer jy maar terug / nou sagter / miskien rsg / om met aflig by die huis in te draai / suutjies oor die kat trap / om verskonend weer in te kruip / lepellê / pateties uitgewoed


(terug)


MENSE MET GLASKOFFIETAFELS MOET NIE KLIPPE GOOI NIE

ek ontvou my vervlonsde vlerke
uit my geboë skouers
om vir nog ‘n keer weereens
my berese belese oordeel te fel
oor swak smaak en kitsch
wyse opinies te lug
oor mooi en andersins
wat is fatsoenlik en aanvaarbaar
wat is mode en with-it
hip en cool
dan sit ek terug
voor noot vir noot
op my gommagomma
en lig my grasshoppers
op die koffietafel
van chroom en glas

(terug)


TE LIG GEVIND

daar is ’n vuurvliegieweek
elke jaareind
in die sagte woudvoue
van die stoere hange
van tafelberg
en die voorreg
om oopmond te kyk
na die verligte stertjies
opgewek vir paring
maak my verleë
oor my eie lomp voorspel


(terug)


DIE PUNTE IN MY LEWENSINNE IS OPTELKLIPPE

Die ene wat ons gesteel het by Skeleton Coast
daaroor voel ek nog steeds skuldig
as ek hom warm maak in my palm
maar dit bring ook jou guitige giggels terug

Ons piekniekmiddag liefde
hoog bo in die berg by die inkpoelkabbel
in hierdie gladklippie hoor ek nog
jou uitasem betuigings

Elke strandtog bring ‘n helder een saam
wat nou vervaag gedroog
rondom potplante lê
en somtyds indringerkatte verwilder

Selfs van die marmerberg
waar Michelangelo sy David gegrawe het
het ek ‘n yswit skerf
wat onkunstig leun bo my kaggel

Al my eindes het sy eie klip.


(terug)


DIE DOOD STAAN HOOG IN DIE BEEN VIR MY VANDAG

Deur vingerpunthoog geelgras
sien ek haar beenloos beweeg
onvanpas gelaphoed, met
haar swarthond, wat
elke dan en wan met uitbundige flapore
jack-in-the-box bo die spriete, en
ek verbeel myself by haar, maar
loodswaar geanker is ek net ‘n droom

Sy en haar swarthond
dobber weg oor die koppie
‘n verlate kriewelwind
loei deur my ribbes
en breek my hart

(terug)


EENVOUDIGE LIEFDESGEDIG

jy is soos
soos die velsout
van ’n seesproei
soos die monsters
in vlieswolke
soos die toekoms
in ’n ingedagte neurie
soos die ontploffing
van spookasem
soos soos soos
nee wat, soos niks nie
on-soos enigiets
jy is my rede
my kop se knik
jy is my verwyl
my gedagtegang
jy is my staat
my hart se klop
jy is hoekom

(terug)


VLIETEND

dis so lig om te kuns
so lig soos onverwagse
sonlig deur ’n roesblaar
so lig soos die vlietenheid
van die ingedagte kind
wat ’n dartelnoot sing
of die kopdronk geur
van warm gemmerkoekies
nou net uit die oond getrek
en die ontploffing
van muskadel op jou tong
dis tog so lig
om te dig

(terug)


BESOEK AAN DIE HUIS VAN MY JEUG

voëlkoestend buk ek
in die stowwerige kamers
van die afdeurbouval
waar ek myself leer ken het
ek fluister vir die spoke
en teug die stemme in
van liefde en wanhoop
en hoop en liefde
die vloerplank kraak
nog op dieselfde plek
en my hart breek
vir verlore onskuld

vandag, by die huis van my jeug
het ek oupa weer geruik
in die goiingsak op die vloer
en vir ouma gehoor
in die afdopverf
bo die houtstoof
nou slegs ’n beskuldigende
gat in die muur
van die huis van my jeug

(terug)


BY ’N SLYPSKOOL, IN GESPREK MET GESLEPE OORDEELFELLERS OOR DIG

wou ek weet
wat dan is dig
spel vir my die reëls
waarnatoe ek my kan rig

verskaf rymelary integriteit
(sien lompe lyne twee en vier)
of forseer dit nie net die kuns
deur die weglaat van dubbel negatief
nie

behoort ek minder te retoriek
wel dan is ek gefok
want daar is altyd meer vrae
as antwoorde in dié hipotese

sentimentaliteit vermy ek wel
volgens my siniese uitkyk
behalwe as ek dig
oor my liewe kat lover blommetuin

religieuse dweep blyk ’n fyn lyn
maar daaraan is ek selde skuldig
wat miskien die rede mag wees
vir my krimpende leserskring

seks verkoop soos soetkoek
maar die menigte se gehyg
hul klotsinge en gloede
maak my ietwat seesiek

skryf waaroor jy weet
wel ek kan nie anders nie
want metafisika en alchemie
is bo my daaglikse vuurherd

nou dig ek maar net
wat uit my vingers drup
en ek speel kinderlekker
in my onskuld

(terug)