![]() |
| André van der Merwe |
|
ROOIBLOSWANGE my somer begin vir seker met die oopbreek van die eerste appelkoos twee duime in ’n sagte fluweelholte ligte uitwaartse insinkingsdruk dan die sappige meegee twee helftes wydoop gesper soetvogdruppend oor taai vingers met tongpunt geslurp en dan die toe oë versugtingshap oorweldigend prikkelend en aaah so glip dit af my somer begin met my eerste appelkoos (terug) OU VOUE EN MIDLIFE dan / wanneer julle so sonder selfbewus / mekaar se bekendste voue ontgin / vir elkaar en eie ekstase / en in die afspiraal / moet hoor van die gebreekte hek / die onbetaalde kaart / die lekkraan dan / skud jy die koekkrummels uit jou some / jaag ten minste 20 km oor die nasionale spoedgrense / met vleiskuif wapperend / dawerende sewentigs rock / rigtingloos tot halftenk dan / keer jy maar terug / nou sagter / miskien rsg / om met aflig by die huis in te draai / suutjies oor die kat trap / om verskonend weer in te kruip / lepellê / pateties uitgewoed (terug) MENSE MET GLASKOFFIETAFELS MOET NIE KLIPPE GOOI NIE ek ontvou my vervlonsde vlerke uit my geboë skouers om vir nog ‘n keer weereens my berese belese oordeel te fel oor swak smaak en kitsch wyse opinies te lug oor mooi en andersins wat is fatsoenlik en aanvaarbaar wat is mode en with-it hip en cool dan sit ek terug voor noot vir noot op my gommagomma en lig my grasshoppers op die koffietafel van chroom en glas (terug) TE LIG GEVIND daar is ’n vuurvliegieweek elke jaareind in die sagte woudvoue van die stoere hange van tafelberg en die voorreg om oopmond te kyk na die verligte stertjies opgewek vir paring maak my verleë oor my eie lomp voorspel (terug) DIE PUNTE IN MY LEWENSINNE IS OPTELKLIPPE Die ene wat ons gesteel het by Skeleton Coast daaroor voel ek nog steeds skuldig as ek hom warm maak in my palm maar dit bring ook jou guitige giggels terug Ons piekniekmiddag liefde hoog bo in die berg by die inkpoelkabbel in hierdie gladklippie hoor ek nog jou uitasem betuigings Elke strandtog bring ‘n helder een saam wat nou vervaag gedroog rondom potplante lê en somtyds indringerkatte verwilder Selfs van die marmerberg waar Michelangelo sy David gegrawe het het ek ‘n yswit skerf wat onkunstig leun bo my kaggel Al my eindes het sy eie klip. (terug) DIE DOOD STAAN HOOG IN DIE BEEN VIR MY VANDAG Deur vingerpunthoog geelgras sien ek haar beenloos beweeg onvanpas gelaphoed, met haar swarthond, wat elke dan en wan met uitbundige flapore jack-in-the-box bo die spriete, en ek verbeel myself by haar, maar loodswaar geanker is ek net ‘n droom Sy en haar swarthond dobber weg oor die koppie ‘n verlate kriewelwind loei deur my ribbes en breek my hart (terug) EENVOUDIGE LIEFDESGEDIG jy is soos soos die velsout van ’n seesproei soos die monsters in vlieswolke soos die toekoms in ’n ingedagte neurie soos die ontploffing van spookasem soos soos soos nee wat, soos niks nie on-soos enigiets jy is my rede my kop se knik jy is my verwyl my gedagtegang jy is my staat my hart se klop jy is hoekom (terug) VLIETEND dis so lig om te kuns so lig soos onverwagse sonlig deur ’n roesblaar so lig soos die vlietenheid van die ingedagte kind wat ’n dartelnoot sing of die kopdronk geur van warm gemmerkoekies nou net uit die oond getrek en die ontploffing van muskadel op jou tong dis tog so lig om te dig (terug) BESOEK AAN DIE HUIS VAN MY JEUG voëlkoestend buk ek in die stowwerige kamers van die afdeurbouval waar ek myself leer ken het ek fluister vir die spoke en teug die stemme in van liefde en wanhoop en hoop en liefde die vloerplank kraak nog op dieselfde plek en my hart breek vir verlore onskuld vandag, by die huis van my jeug het ek oupa weer geruik in die goiingsak op die vloer en vir ouma gehoor in die afdopverf bo die houtstoof nou slegs ’n beskuldigende gat in die muur van die huis van my jeug (terug) BY ’N SLYPSKOOL, IN GESPREK MET GESLEPE OORDEELFELLERS OOR DIG wou ek weet wat dan is dig spel vir my die reëls waarnatoe ek my kan rig verskaf rymelary integriteit (sien lompe lyne twee en vier) of forseer dit nie net die kuns deur die weglaat van dubbel negatief nie behoort ek minder te retoriek wel dan is ek gefok want daar is altyd meer vrae as antwoorde in dié hipotese sentimentaliteit vermy ek wel volgens my siniese uitkyk behalwe as ek dig oor my liewe kat lover blommetuin religieuse dweep blyk ’n fyn lyn maar daaraan is ek selde skuldig wat miskien die rede mag wees vir my krimpende leserskring seks verkoop soos soetkoek maar die menigte se gehyg hul klotsinge en gloede maak my ietwat seesiek skryf waaroor jy weet wel ek kan nie anders nie want metafisika en alchemie is bo my daaglikse vuurherd nou dig ek maar net wat uit my vingers drup en ek speel kinderlekker in my onskuld (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. André van der Merwe hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |